Meubelstuk is die woord wat na voorwerpe soos stoele, tafels, kaste en bedkatels verwys.
In ander woorde, meubels is die versamelnaam vir ál die voorwerpe in 'n huis of gebou wat deur mense gebruik kan word om op te sit, te lê, of om kleiner goed in te stoor, soos linne of koppies. Meubels kan van hout, leer, plastiek, ensovoorts vervaardig word.
In die Oudheid, met uitsondering van die tyd van die Romeinse Ryk, wat sterk op weelde ingestel was, is daar minder meubels as teenswoordig gebruik. Die meubels was nie juis gemaklik nie; die hedendaagse gemakstoel (Eng. lazy boy) met sy ingeboude voetstoeltjie en verstelbare kopstuk en ruglening is tipies vir die 20ste eeu.
Ook in die Middeleeue is min soorte meubelstukke gebruik en hulle was dikwels meerdoelig: dit was byvoorbeeld tegelyk sitplek en bereplek. Die Middeleeuse meubelmaker was anoniem, maar die naam en ander gegewens van talle van sy 18de eeuse beroepsgenote was in die meeste gevalle bekend.
Die name van die 19de eeuse meubelmakers was egter ook onbekend omdat dit 'n tydperk was waarin die ou style bloot nageboots is. Gedurende die 20ste eeu het die name van meubelontwerpers weer bekend geword.
Aanvanklik het die meubelkuns sy versiering aan die argitektuur ontleen. In die Renaissance het die meubelkuns egter daarvan weggebreek en sy eie vormtaal ontwikkel, wat vanuit Italië deur Europa versprei het. Die sogenaamde patroonboeke (boeke met voorbeelde van meubels), soos dié van Hans Vredeman de Vries (1555), het 'n belangrike rol gespeel in die verspreiding van nuwe idees.
In die 17de eeu is die toon deur die Franse hof aangegee; die sogenaamde Lodewyk-style is in verskillende Europese lande nagevolg. Daarna is daar ook meer aandag geskenk aan die samehang tussen meubels en die vertrekke waarin dit geplaas is: die mure, plafon, skoorsteen, ensovoorts is in dieselfde styl as die meubels versier. In die 18de eeu was daar 'n sterk voorkeur vir die Chinese en Japannese lakpanele, en gedurende die 19de eeu het die historiese neostyle ontstaan. Die Neo-Gotiek was die eerste en belangrikste verteenwoordiger hiervan.
Hierop het 'n periode gevolg van masjiengemaakte meubels, wat aanvanklik so goedkoop moontlik vervaardig is. Hierdie stukke was van swak gehalte en met sinnelose sierwerk oorlaai. Na 1880 het daar 'n reaksie teen die massavervaardiging van meubels ontstaan en is daar na eenvoud teruggekeer. Die konstruksie van die meubelstuk is ook duidelik sigbaar gemaak. Funksionaliteit was die belangrikste maatstaf. Die mode se 20ste eeuse vormgewing is strak en doeltreffend.
Kleur speel 'n belangrike rol, terwyl sierwerk in groot mate verdwyn het. Daar word ook steeds hoër eise aan gemak gestel. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het die Skandinawiese meubelnywerheid die toon aangegee. Naas hout is van verskillende kunsstowwe gebruik gemaak. Die heersende modes en style in Europa het 'n belangrike rol in meubelgebruik en meubelontwerp in Suid-Afrika gespeel. Gedurende die 17de eeu het veral die Nederlandse en in mindere mate die Duitse en Franse agtergrond van die nedersetters aan die Kaap die deurslag gegee. Na 1800 het die Engelse modes in toenemende mate 'n invloed op Suid-Afrikaanse meubels gehad, maar daar was tog eienskappe wat die plaaslikvervaardigde meubels tipies Suid-Afrikaans gemaak het.